Sukkel jy om 'n dierbare se dood te verwerk? Was dit jou eggenoot? Jou kind? ʼn Broer of suster? ʼn Ouer? Was die persoon jonk of oud? Was die persoon siek? Het die dood jou dalk ongesiens en uit die bloute bekruip?

Ervaar jy emosies waarmee jy dalk nog nooit vantevore kennis gemaak het nie? Is jy bang jy rou dalk “verkeerd”, nie genoeg nie of dalk te veel? Moedig vriende en familie aan dat jy moet aanbeweeg, lank voordat jy gereed is? Jy word aangemoedig om jou hartseer weg te steek omdat dit hulle ongemaklik maak. Miskien druk daardie mense dat die “ou” persoon terugkom, iets wat moontlik nooit weer sal gebeur nie. Geen mens ervaar ʼn lewensveranderende gebeurtenis en gaan aan met hul lewe asof niks gebeur het nie!

Jy voel dalk geïsoleer in jou rousmart. NIEMAND verstaan nie! Jou behoeftes val op dowe ore. Die goedbedoelde raad is toe nie so goed of empaties soos wat hulle dink nie. Mense haal Bybelversies aan EN DIT HELP NIE.

Dalk voel jy eensaam. Jou maat is weg, wat nou?

Hoe gaan jy die jare vorentoe oorleef sonder jou maat of kind? Is daar ooit ʼn toekoms vir mense soos ons?

Miskien was dit 'n traumatiese verlies, en jy voel verlate , verstote en dalk ook eensaam.
Dalk het jy ook gedink dat rousmart na 365 dae verby sal wees, maar nou is jy nog net so hartseer soos in die eerste dae. Hoe nou verder?

Gedurende elkeen se leeftyd sal daar verlies en rousmart wees, maar genadiglik is nie elke verlies traumaties nie. Alhoewel, indien jy sukkel om die dood van iemand te verwerk, vashaak iewers in die proses en nie weet hoe om vorentoe te beweeg is nie, is die boek 'Op Vlerke van Hoop' spesifiek vir jou geskryf. Daarin gesels die skrywer onder andere oor die emosies in verlies, Is die dood van 'n kind dan anders, selfdood en gewelddadige dood, PTSD, selfverwyt, woede, depressie en vergifnis.

 

 

 

Please note that this book is currently available in Afrikaans only.